Thursday, December 20, 2012

Goggos en kersfees


Ons is alreeds by die tweede kersfees! Die tyd vlieg so vining verby en onder ons neuse word Adrian ‘n groot seuntjie. Hy is alreeds 20 maande en 9 dae oud!! Hy het ‘n week gelede sy laaste inentings gekry as ‘n baba, wat wonderlike nuus was vir Pa en Ma. Die volgende inenting is op 6 jarige ouderdom, alhoewel daar ‘n optionele inenting teen breinvlies ontsteking is wanneer hy 2 jaar oud word. Nietemin, na sy laaste inentings het hy darem nie siek geword nie. Sy eetlus was wel geafekteer en hopelik kan dit maar toegeskryf word aan die newe effekte van die inentings. As dit so is, is dit maar einaardig, aangesien die eetlus vir ‘kokkoks’ (koekies) en broodjies glad nie geafekteer het nie.

Adrian se woordeskat en komunikasie vaardighede ontwikkel by die dag. Ek weet mense sê dat klein kindertjies soos sponse is wat alles absorbeer, en dit is nou weereens bewys. Ewe skielik begin hy woorde noem wat ons so baie vir hom gesê het toe hy klein was. Sy gunsteling woorde en voorwerpe moet wees die ‘MAAN’ en ‘AMETJIE’ (dummy).  Dit is natuurlik buiten die woorde, mamma, pappa, kokkok en water. Elke aand voor bedtyd, begin Adrian die maan soek,  terwyl hy heeltyd roep ‘kyk maan’. Pa moet hom maar uit vat en die maan wys. Die grootste struikelblok deesdae is al die wolke en reën wat dit ontmoontlik maak om die maan te sien. Wanneer Adrian wel die maan sien dan roep hy “maaaan’.
Adrian sien die maan

Kersfees het vroeg vir Adrian gekom. Hy begin al hoe meer die konsep van geskenke te verstaan, hoe om geskenkpapier oop te ruk en ‘n verrassing te kry. Ma en Pa het reeds vroeg in Desember begin geskenke koop. Ongelukkig het nie een van die geskenke dit gemaak tot ou kersaand nie. Of Ma en Pa is te opgewonde oor die geskenke of Adrian met sy wakker ogies, sien dit raak en wil dit dan dadelik oopmaak. So het dit gebeur dat hy die volgende rits geskenkevoor kersfees ontvang het – maan- en sterretjie tent, batman motorfietsie, floresent maan en sterretjies, sak met 100 balle, drie DVD’s (Carike sing, A bugs life en Finding Nemo) en ‘n TV kontrole. Buiten die geskenke het hy ook vroeër by die “Van Rooyen Kersete” ‘n motortjie by Cobus, brandweerwa by Julliete en matchbox karretjies by Ma gekry. Wat ‘n bederf!!
Adrian in sy eie 'Maan en sterretjie'tent


Tot ons misnoë het hy besef dat die TV ‘n groot bron van vermaak is. Hy sal gereeld die TV en DSTV kontroles vat en die TV prober aanskakel. Tussen Adrian en Ma is dit altyd ‘n gesukkel om die TV ‘uit te sorteer’ aangesien nie een van hulle weet watter knoppies om te druk nie of watter kontrole die regte een is nie (daar is kontroles vir – TV, DSTV, DVD, Yamaha klanksisteem en een ou kontrole vir Adrian). Soos reeds genoem, het Adrian ‘n speel kontrole vir ‘kersfees’ gekry. Die kontrole het 60 verskillende klanke. Sodra ‘n knoppie gedruk word maak dit ‘n geluid. Die geluide is in groepe verdeel - TV, diere, musiek en toetter geluide. Dit verskaf baie plesier vir Adrian, maar hy het ook gou besef dat die kontrole nie die TV kan aanskakel nie. Hy sal vir Pa aan die hand vat en in die rigting van die TV kamer trek terwyl hy sê ‘kyk goggo’. Hy verwys natuurlik na die “A bugs life” DVD of hy sal sing “Heidi, Heidi” vir die Heidi DVD. Ons prober maar die TV kyk beperk so vêr ons kan, maar dit is baie handig wanneer ‘n doek geruil moet word!
Adrian se eie 'TV' knoppies

Kersfees is om die draai en Ma en Pa sal weer die winkels moet aandurf om ‘n geskenkie vir Adrian te koop wat hy op ou kersaand kan oopmaak. Die keer moet ons dit goed wegsteek soda thy dit nie voor die tyd kan ontdek nie.

Somer is swem tyd


Die lekkerste van Desember is die warm sonnige weer, perfek vir klein seuntjies om in te swem. Adrian is nog steeds baie lief vir water en bad en swem graag. Ons is egter maar skrikkerig vir die groot swembad en hou dié maar gesluit.

Ma en Pa het vir Adrian ‘n ronde plastiek swembad en ‘n skulp met sand gekoop. Aangesien ons nie by die strand en see kan wees nie het ons besluit om dit na ons huis toe te bring. Adrian is absoluut mal daar oor. Sodra die sitkamer skuifdeur oop gemaak word, naal Adrian vir die swembadjie of sanpit. Hy sal ure lank in die water sit en ‘n emmertjie volwater skep en dit oor himself omkeer of Pa probeer nat gooi met ‘n groot gelag (dit is nou Adrian wat lag en Pa wat probeer koets).
'n Swembad net groot genoeg
Adrian in sy sandpit

Adrian is ‘n versamelaar en sal altyd goedjies bymekaar maak. Die voorwerpe wat hy optel moet altyd dieselfde wees – drie balle of drie motortjies of twee handevol plastiek goggatjies. Drie is die minimum, hoe meer hoe beter. As die handjies vol is sal hy die goedjies onder sy arms vas knyp. Balle is nie so maklik nie. Sodra hy die derde of vierde bal optel val een uit sy handjie. Maar hy sal nie tou opgooi nie, hy moet dood-een-voudig soveel balle as moontlik optel.
Daar moet altyd meer as 3 goedjies vas gehou word

Sodra hy nou regtig nie iets kan doen nie sal hy luidkeels roep “KAN NIE” en wag dat Ma of Pa hand kom by sit.

Adrian is baie lief daarvoor om buite rond te loop en speel. Hy is veral lief om blommetjies bymekaar te maak. Hy sal handevol blommetjies in die huis in dra, dit iewers neer sit en weer uitgaan om nog bymekaar te maak. Ma en Pa moet nie eers daar aan dink om hom te stop nie, dan sal hy vining uit roep “NOG” en koersvat buite toe.

Dit is ongelooflik om te sien hoe hy al hoemeer onafhanklik raak en himself begin besig hou, al is di tom goedtjies bymekaar te maak!

Wednesday, November 21, 2012

Groot blou motor uit die VSA


Twee maande het al verloop sedert ek iets oor Adrian op die Blog geplaas het. Maar wat ‘n twee maande was dit nie! Nie net in Adrian se lewe nie maar ook myne.

Vanaf 17 Oktober tot 4 November besoek ek die VSA en was dit maar swaar om vir Adrian en Kona agter te laat. Terwyl ek my besig gehou het met besigteging van New York, Washington DC, Harrogate, Middlesberough en Gatlinburg het eke k baie aan Adrian en Kona gedink. Hoe bevooreg en geseënd is ek nie met ‘n droomvrou en ongelooflike seuntjie. Niks in die hele wêreld kan meer beteken as hulle twee nie!
Lank het ek uitgesien na my aankoms terug in Suid Afrika met Adrian wat in my arms in hardloop as hy my sien. Maar, ongelukkig werk dinge nie altyd uit soos jy dit visualiseer nie. Met die aankoms terug in Pretoria is ek reguit na Ouma waar Adrian bly. Met die intrapslag kon ek myself nie keer nie en storm op Adriantjie af….. Adrian het een kyk in my rigting gegee en met groot oë reguit in sy mamma se arms gehardloop. Eers wou ek baie teleur gesteld wees maar na paar minute besef Adrian wie ek nou eintlik is. Daarna was daar geen keer aan hom nie. Soos ‘n apie het hy aan sy papa geklou!

Adrian het soveel in 19dae verander! Hy lyk nou soos ‘n regte klein seuntjie wat die wêreld vol hardloop en heeltyd babble. Sy woordeskat het merwaarding verbeter. Al die baie stories lees het nou duidlik vrugte afgewerp. Hy is nou soos ‘n spons wat elke word opslurp. Woorde soos – maan, son, kar, water, appel, matie (tamatie), mat, het algemene gebruiks woorde geword.

Pa het vir Adrian o.a. ‘n blou motortjie terug gebring van uit die VSA (gekoop by die grootste Toy’s R Us in die wêreld). Nooit sou ek besef dat hy so versot sou raak op die motor wat revolusies optel hoe meer jy op hom druk  nie.
Adrian met sy nuwe blou motor uit New York

Sedert ek terug is was Adrian by Mia (Vossie se jongste dogterjie) se 2 jarige partytjie. Het hy dit darem geniet!! Veral die pakkie lekkergoed wat vir elkeen gegee is!
Adrian en Kona by Mia se 2 jarige partytjie
Die VSA besoek was wonderlik maar ek kan met ‘n vrye gemoed erken dat die vreugde wat ek erfaar het om vir Kona en Adrian weer te sien veel groter en beter was!!
 

Saturday, September 8, 2012

As ek die tyd kon terug draai

Wie kan nog onthou die eerste keer wat jy jou voete op die strand gesit het. Waarskynlik baie min van ons. Adrian sal waarskynlik ook een van die wees wat dit nie sal onthou nie, maar Pa sal definitief dit vir altyd onthou.

Pa, ma en Adrian was baie gelukkig om by Sanlameer vakanise te hou vanaf die 22ste Augustus tot 3 September. Dit was die eerste keer dat Adrian die groot  see gesien het. Ongelukkig was die weer op die dag wat ons arriveer het maar sleg en het ons die groot oomblik uitgestel tot die volgende dag met die hoop dat die reën weer sal wyk.

Die Donderdag (23ste) was die weer darem effe beter en kon ons ten minste strand toe gaan. Ma en Pa het vroeg die oggend vir Adrian sy pap gegee, doeke sak gepak met grafie en emmer daarin. Ons kon ons opgewondendheid skaars beteul. Met Adrian op Pa se skouers, strand sambreel onder die arm en Ma met die doek sak agterna is ons af strand toe. Adrian se mond het letterlik oop geval ten aanskoue van die massa water voorhom. Met n vingertjie wys hy na die see en begin te gesêls. By die gety poel sit ek hom op die sand neer. Adrian was heeltemal verstom oor alles wat hy rondom hom sien – baie water wat raas en spoel, sand oral om hom en Ma en Pa wat fotos en video neem.
Adrian by Sanlameer strand

Vinnig begin Adrian gewoond raak aan al die sand en begin hy met sy handjies graws en vee! Sonbrand-smeer word oor die hele lyfie, wat by die ‘Spiderman’ swempakkie uitsteek, gesmeer en hoed word op die koppie gedruk. Vinnig het hy hom tuisgemaak in die vlak water van die getypoel en sand “kastele” begin bou – dalk nie heeltemal sandkastele nie maar “molshope”.

Later die middag het Ouma Joyce en Oupa Phillip by ons aangesluit. Adrian het die tyd saam met hulle so geniet en vreeslik baie gesêls. Ouma en Oupa het om die volgende paar dae om die beurt vir Adrian op stappies geneem terwyl Ma en Pa kon rus.

Sanlameer is nie net bekend vir sy mooi strand nie maar ook sy pragtige golfbaan. So het Ma en Pa elke middag saam met Adrian op die golfbaan gaan stap. Adrian het selfs die rooibokke op n slag vir ‘n goie 100m vêr agtervolg met die hoop om een te vang. Apies was oral te siene en Adrian het die slag toe paar apies besluit om rooibokke rond te jaag vreeslik geniet.
Adrian op die golfbaan met rooibokke in die agtergrond

Teen dag 7 was Adrian so vertroud met die see dat hy op sy eie langs die strand afstap met Ma en Pa natuurlik kort op sy hake (met kamera en videokamera in die hand). Daar was wel een geleentheid wat hy himself misgis het met die branders. Adrian het dood loiters langs die see afgestap toe ‘n brander, jeup hoogte, verby hom spoel. Met die terug trek spoel die sand onder sy voetjies uit en slaan hy toe neer, kop eerste in die water. Ma storm toe vining nader om hom te red. Met ‘n huilende Adrian is Ma strand uit na die duine. By die huis kry hy ‘n lekker warm bad net om die sand uit die hare en ore te kry.
Pa, Ma en Adrian by Sanlameer
Die pad terug huis toe was maar lank en swaar. Die tyd by die see as ‘n families al lank onthou word en hopelik sal dit binnekort weer gebeur!

Ek het op die gedig afgekom wat so mooi vertel dat jy elke oomblik moet koester en onthou! (‘n Uitreksel van die gedig)

"Ek sou so graag - wéér - na al jou lewensdrome wou luister
en saam met jou nuwe lewensdrome vir die toekoms droom.


Ek sou weer saam met jou kussinggevegte wou hê
Weer saam met jou op die gras wou lê
en prentjies in die wolkformasies soek."

Monday, August 6, 2012

Adrian loop!

Goeie nuus, Adrian loop. Dit kon nie op 'n beter tyd gebeur het nie. Drie weke voor Sanlameer en Adrian loop. Tenminste sal hy in die vlak branders kan staan en loop. Hy het al twee maande gelede begin skuifel langs tafels af en paar klein treetjies gegee. Ek is seker dat sy 'stappies' nou as werklike loop pogings geklassifiseer kan word.

Adrian loop sonder moeite en kan selfs "multi task"

Sonder enige bystand en moeite kan Adrian nou na willekeur rond loop. Hy sal egter nog nou en dan die maklike uitweg kies en soos a sak pattats op die grond neerval en verder kruip. Hierdie nuwe vryheid het vir hom nuwe horisone laat sien. Letterlik, nou is niks meer buite sy bereik nie. Ma en Pa moet nou baie vinniger vooruit dink en kyk wat Adrian kan van die tafel af pluk en soms verwoes. soos ons moes uitvind met Kona se gunsteling kers kandelare. Soos 'n waferse Usain Bolt het hy afgepeil op die kers kandelaar. Pa het nog probeer keer, maar te laat. Die kandelaar het in 'n oogink in 'n drom stokkie verander. Die kop van die kandelaar het eenkant toe gevlieg met die steel stewig in Adrian se handjie. Ek hoop super glue kan die kandelaar 'n tweede lewe gee.



Die wonderlikste van als is dat Adrian 'n nuwe wereld sal ontedek en die wereld wat hy ken sal dramaties verander!!

Monday, July 30, 2012

Gif kom in klein botteltjies, of dalk eerder energie

Seuntjies is blykbaar oor die algemeen bondeltjies enegie. Adrian bewys dit deur en deur. Hy kan nie vir lank stil sit nie, behalwe wanneer Ma of Pa 'n storie boek vir hom lees. Andersins, is hy soos 'n 'bouncing ball', en ek bedoel dit letterlik. Hy sal gedurig sit en op en af hop, staan en op en af spring of in Pa se arms sit en op en af rits. maar op en af moet hy beweeg. Om die waarheid te sê sal hy enige iets doen net om te kan beweeg.

Hy klim graag teen die vensterbank op, maak vensters oop net om speelgoed by die vesnter uit te gooi. Die diefwering maak 'n heerlike klimraam uit. Voor ons nog kan keer, klouter hy soos 'n ware dassie teen die diefwering op terwyl sy voetjies onderhom in die lug rond swaai.

'n Plan moes dringend gemaak work.
Plan 1: Maak 'n swaai. Gelukkig het Ouma Joyce vir hom 'n swaai vir sy verjaarsdag gegee. Pa moes maar boom uit om die swaai te hang. Siedaar, probleem opgelos. Of te wel tydelik op gelos. Ma en Pa kan ook net vir so lank swaai stoot, dan is Adrian maar terug venster toe en diefwering uit.

Adrian op sy tuisgemaakte swaai
Plan 2: Stoot Adrian rond in 'n boks. Wonderlik, dit werk. Adrian sit soos 'n wafferse renjaer, kompleet met kop voorentoe om wind weestand te minimaliseer. Die probleem is dat die "renmotor" redelik vinnig uit petrol loop. Dit is nou Pa se energie.

Adrian in sy 'renmotor'
Plan 3: Kry vir Adrian 'n 'waentjie' wat hy kan rondstoot. Dit blyk toe die 'final solution' te wees. Adrian stoot die 'waentjie' of vrugte rakkie die wêreld vol. Ma en Pa moet maar net bondstaan om nie omgery te word nie.

Adrian stoot sy 'waentjie' deur die huis

Adrian stoot sy 'waentjie'
Plan 4: Neem vir Adrian na 'n speelpark waar hy kan trampolien spring. Dit is egter nie altyd moontlik nie want faktore soos weer, Ma en Pa se energie vlakke en tyd speel 'n rol.

Adrian op 'n trampolien
Die enigste oplossing blyk te wees - Ma en Pa moet maar net gedurig plannetjies maak om bondels en bondels energie te verbarand. Dit is nou Adrian se energie!!

Adrian en die bees

Ek het by so baie ouers gehoor dat babas word net ouliker en ouliker. Ek kan dit beaam. Elke maand dink ek, "nou is Adrian op sy oulikste" net om 'n maand later dit weer te dink. Adrian is nou op die stadium waar hy vreeslik baie kommunikeer. Met a swaaiende handjie en vinger wat na voorwerpe wys gesels hy heeltyd met Ma en Pa. Niks ontwyk die wakker ogies nie. Hy neem alles waar. In Woolworths net nou die dag dra ek hom in my arms terwyl ek soek na die babakos. Adrian gesels so en wys heeltyd na die advertensie plakate toe 'n vrou omdraai en noem dat Adrian baie oulik is. inderdaad wou ek terug sê. Met babakos in beide handjies (hy is mal om voorwerpe in beide handjies vas te hou) staan ons in die ry om te betaal. Uiteindelik toe ons by "till number 3" uitkom weier hy om die babakos te los. Met 'n groot glimlag vat die vrou by die register vir Adrian en skuif hom en die babakos by die 'scanner' verby. Gelukkig registreer die register die regte prys vir die babakos. Natuurlik het Adrian die episode baie geniet, so ook die talle mense wat die petalje moes aanskou.

Oor 'n maad gaan ons Sanlameer toe en ek hoop Adrian kan teen daai tyd behoorlik loop. Dit sal net soveel lekkerder wees as hy oor die strand kan loop as om te kruip. Hy het die afgelope naweek 16 treetjies gegee! Sy loop vernuf verbeter by die dag.

Adrian voer die bees by Irene Plaas

Twee naweke gelede besluit Ma en Pa dis tyd om vir Adrian plaas toe te neem. Natuurlik is daar net een plaas in Pretoria en dit is die Irene Dairy Farm. Was dit nou pret! Koeie wat uit Adrian se hand gras eet, hoenders wat dink sy toontjies is mieliepitte en swane wat op die plaasdam swem. Adrian het met groot oë  na die bees gekyk wat hard probeer het om hom 'n lek seur die gesig te gee. Natuurlik was dit groot pret toe die hoendertjies sy tone probeer pik.

Adrian word elke oggend wakker met 'n groot gebabbel en vriendelike laggies. Hy word veral baie vrolik as hy sekere speelgoed sien, soos sy hond wat Cobus vir hom gegee het toe hy gebore was. Sodra hy sy melk klaar gedrink het sal hy vinnig teen die bed af seil en vir die 'hond' gaan groet met 'n behoorlike soen en drukkie.


Adrian gee vir sy hondjie 'n drukkie

Thursday, May 31, 2012

Adrian se blou velskoene

Dit is met groot afwagting dat ons wag vir die eerste groot tree wat Adrian gaan gee. Dit is nou al 'n geruime tyd dat hy op sy eie regop staan en self 'squad' sonder enige hulp. Die skuifel passies laangs die koffietafel word ook al hoe vinniger. Ouma beweer dat hy binne die volgende twee weke gaan stap.
Adrian se blou velskoene

Pa is naturrlik baie opgewonde oor hierdie uitsig, dit beteken balskop, hardloop in die tuin, wegkruipertjie speel ens. Dit beteken ook dat Ma en Pa gedurig op hulle hoede sal moet wees. Reeds in 'n oogwink kan Adrian onder 'n mens se neus verdwyn.
Net paar dae gelede durf ons drie (Pa, Ma en Adrian) winkels aan. Soos 'n groot draak met sy bek wyd oop het Menlyn Mall voor ons verrys. Ons moes maar oe toe knip en in die draak se keel af stap met een doel voor oe - Adrian het skoene nodig. Dit is allermins amper winter en die mannetjie gaan begin loop. Wat 'n gesig moes dit vir omstanders wees om te sien hoe Ma en Pa oeeh en Aaah oor al die klein skoentjies. Die sweet het my voorkop letterlik begin afstroom soos ek moes stoei om skoene aan Adrian se voete te kry. Skoene is nie gemerk soos klere nie - 12-18 maande. Skoene het net nommers - 3, 4, 5... Uitendelik is dit 'n uitgemaakte saak, Adrian dra 'n nommer 5 skoen. Met die skoene aan die voete is ons by die kasiere en betaal. Die skoene is "Walkmates". Blykbaar ondersteun dit die voetjies en maak dit vir kleintjies makliker om te loop.
Al wat die skoene kort is spykers onder die sole, want ek dink hierdie seuntjie gaan soos 'Golden Gate se perde haastig wees - dit is nou wanneer omdraai, terug na die stalle.

Adrian se eerste partytjie

Hierdie was n dag wat ek al lankal na uitgesien het. Ma en Pa was natuurlik meer opgewonde as die verjaarsdag seun. Reeds paar maande voor die groot dag het ons die partytjie winkels deur geraf vir idees. Ons het natuurlik geweet waarvan Adrian hou, maar om sulke verjaarsdag versierings te kry was n perd van 'n ander kleur. Wat sou die tema wees - 'n padda partytjie? Adrian is mos so mal oor "Piet-padda" en sy sagte padda softoy. Of dalk seerower partytjie? Uiteindelik besluit ons op 'n saffari-partytjie, drian is mal oor diere en meer spesifiek apies. In een van sy gunsteling boeke - 'Ek is lief vir jou slaapkous' is die vier apies in die boom een van sy gunsteling prentjies.
Nou het ons tenminste n idee om voor uit te kyk. Gou kom ons agter dat kinder partytjie reel is nie so maklik nie.... uiteindelik kry Kona oulike safari eetbordjies, strooitjies en tafeldoek met wilde diere daarop en 'n apie wat prominent vertoon. Perfek! Nou vir die koek. Waar kry 'n mens 'n apie koek? Gelukkig kry ons 'n plek wat spesialiseer in koeke. 'n Week voor die groot dag bestel ons die oulikste en mooiste apie koek.
Adrian se 1ste verjaarsdag koek
Adrian by se verjaarsdag tafel

Wednesday, May 2, 2012

Adrian reeds 1 jaar oud!

Kyk na jou kinders dan besef 'n mens hoe vinnig die tyd verby snel. Adrian is vandag een jaar en twintig dae gelede gebore. Die klein lyfie wat eens dwars op die doek-ruil-kas gepas het moet nou op 'n bed le om doeke te ruil.
Die afgelope April vakansie was 'n geleentheid om werklik 24uur per dag saam as 'n gesin tyd te spandeer. Dit was 'n geleentheid om werklik te sien hoe hy ontwikkel het. Vroeg in April reeds het Adrian op sy eie begin staan. Ek het probeer "rekord" hou van hoe lank hy kan staan, 25 sekondes! Elke oggend word hy wakker met 'n gebabbel. Dit is vir hom heerlik om in die huis rond te kruip en uit volle bors te "gesels" terwyl die armpies swaai net om meer klem te le op wat hy vertel. Hy sal wegsink in 'n boekie of 'n speelding net om te besef dat Ma en Pa elders in die huis besig is, dan met luide geroep ons te kom soek.
Adrian staan voor die spieel by Fernwood Lodge (April, 2012)

Ons was gelukkig om vir 'n week in die Drakensberge (Chapaigne Castle) by Fernwood Lodge deur te bring. Adrian was verstom met die veld en berge rondom hom. Nie eers te praat van die zeebras wat voor ons stoep kom wei het nie. Elke dag se stap in die berg was 'n hoogtepunt. Adrian word in die stapsak gelaai, hoed op die kop, die berg in. Al singende sal hy die natuur rondom hom bewonder. Blaartjies gryp, spat in 'n bergstroom of poel en lag vir swart wildebeeste, wilde perde of hartbeeste. Dit was ook hier wat ons sy eerste verjaardsdag kon herdenk. Ma en Pa het die oggend geskenkies gegee en gesing. Adrian is mal oor sy plaas en wilde diere geskenk!

Adrian op Pa se rug, gereed vir 'n stappie in die berg
Sy eerste partytjie moes egter wag vir die 28ste April toe ons terug by die huis was. Dit was 'n apie partytjie met 'n lieflike apie-koek.

Tuesday, March 6, 2012

High maintenance maar so baie plesier!

Vra vir enige persoon wat passievol is oor iets, en almal sal se - dit is high maintenance, maar ai, dit verskaf soveel plesier!! Antieke motor versamelaars, filatiliste, boek versamelaars, ens. moet ure spandeer om hulle versamelstukke te soek, herstel, versorg en bewaar. Maar die eind resultaat is altyd baie bevredigend.
Met 'n 11maande oue baba is dit die selfde. Ure word spandeer aan doeke ruil, bad, boekies lees, kreatiewe speletjies en natuurlik dop te hou waar hy kruip. Al die ure is egter net plesier vir Pa en Ma. Dit is die beste en mees belangrikste belegging wat enige ouer kan maak - jou kind se ontwikkeling. Gelukkig is elke minuut wat ek saam met Adrian spandeer 'n absolute plesier. Dit is wonderlik om te sien hoe Adrian groei, ontwikkel en nuwe mylpale behaal.
Adrian geniet sy "ontdekkings reise"
Dit is nou al meer as 'n maand (30 Januarie) dat Adrian kruip. Sy kruip vernuf het vanaf 'n stoom lokomotief ontwikkel tot die van 'n Gautrain snel trein. As Ma en Pa net vir 'n breekdeel van 'n sekonde jou rug op A'tjie draai, is hy weg.
Lena (dit is nou Adrian se eie 'nanny') beweer dat hy teen die einde van Maart gaan loop!. Dit is definitief 'n sterk moontlikheid. Hy het reeds twee weke na sy kruip begin het teen tafels enstoele beging opstaan. Ongelukkig gee dit hom die vernuf om trappe uit te klim wat vrees aan jaend vir Ma en Pa is. Soos 'n wafferse bobbejaan seil hy teen die trappe op! Ons moet dus vinnig 'n hand bysit met die afkom slag.
Adrian klim trappe
Ek het voorheen geskryf dat Adrian soos 'n knaagdier aan alles kou. Deesdae dra hy sy speelding in sy mond as hy kruip. Soos 'n ware hondjie. Hoe anders moet hy dan kruip en speelgoed saam dra?
Adrian kruip met lepeltjie in mond

Monday, February 13, 2012

Soos 'n resies perd op Kennelworth

Adrian geniet die nuwe fase in sy lewe terdee!! Hy ontdek 'n nuwe wereld.... Hy kruip agter elke hoekie in om te sien wat verborge vir hom was, iets soos 'n skatte jag. Ma en Pa kan net vir 'n oomblik om die hoek verdwyn en A'tjie sal agterna sit om te sien waar ons is. Hy is mal oor jaag speletjies. Pa sal agter die bed wegkruip waarna Adrian vinnig sal kruip om te sien waar Pa is. Met ,n vrolike laggie sal hy Pa "ontdek, vinnig om swaai en met kraai geluidjies die hase pad te kies sodat Pa hom moet vang. Natuurlik MOET Pa ook kruip. Na paar meter sal Adrian gaan sit, vinnig omkyk net om seker te maak dat sy agtervolger nog op sy spoor is. Met uitbindige lag sal hy voort kruip totdat Pa hom vang.

Verlede Sondag is ons na LC de Villiers (TUKS sport gronde) om die eende te gaan voer. Ongelukkig het 'n donderstorm opgebou wat ons piekniek verkort het. Nie te min, was dit vir Adrian a belewenis om soveel eende en ganse te sien, letterlik by die honderde. Die oomblik to die eende/gaanse kos gewaar stroom hulle in rye na Adrian, Ma en Pa met die hoop om gevoer te word. Tot groot vermaak van Adrian natuurlik.


Kona en Adrian voer die eende

Thursday, February 2, 2012

Die Ferrari uit die wegspringblokke

Adrian kruip. Einde Februarie was die groot oomblik to Adrian die eerste smakie gekry het van vryheid en onafhanklikheid. Seinertjie (my bynaam vir Adrian) kan nou self na sy speelgoed toe kruip, een speelding los om net na die volgende een te kruip. Hy het selfs begin om homself teen die tafelpoot op te trek, alhoewel hy nog op sy kniee bly.
Met hierdie wonderlike mylpaal wat bereik is, is ook nuwe bekommernisse vir Ma en Pa geskep. Draai jou rug vir paar sekondes en hy is iewers anders doenig. Hy is veral lief om na elke draad sigbaar te kruip en daaraan te knaag soos n knaagdier. Hy sal nou vinnig n nuwe woord by sy repertoir leer- "NEE". Pa moes maar vinnig muurprop 'proppe" gaan koop want A'tjie sal gou besef dat die drie gaaitjies in die muur net groot genoeg vir sy vingertjies is.
Ongelukkig ook met die kruip en optrek kom ongelukkies. Ma en Pa storm elke keer nader as hy huil nadat hy sy kop gestamp het teen n tafelpoot of blad. n Mens kan ongelukkig nie jou kind vir altyd teen die pyne van die wereld beskerm nie.

Maar vir nou is ons net te bly dat hy nog n mylpaal kan af 'tick'. Elke dag word hy net ouliker vir ons.



Adrian kruip die wereld vol (9 maande, 4 weke)




Adrian met sy "teething necklase"

Friday, January 13, 2012

Die Ferrari wat gereed maak om weg te trek

Nege maande is verby! Dit voel soos gister toe ek die eerste keer vir Adrian kon vashou. Die klein lyfie met ogies styf toe geknip. Vroeg in Desember is Adrian siek, dadelik dokter toe. Sweertjies het in sy keel gevorm wat sluk baie moeilik maak. Drink tyd het vir hom in n pynlike erfaring verander. Gelukkig was dit net tydelik. n Standaard prosedure blykbaar is vir die dokter om sy lengte en gewig te meet. Dit is natuurlik dié deel van die ondersoek wat vir Pa baie trots gemaak het. Adrian se lengte is in die top 2% van babas van sy ouderdom. Die selfde as die gemiddelde baba van 1 jaar! Ons is al van vroeg af “gewaarsku” dat ons baba nie n “tink-tinkie” gaan wees nie.
Desember vakansie was absoluut fantasties omrede Pa en Ma soveel kwaliteit tyd saam met Adriantjie kon spandeer. Ons het speletjies gespeel, boek gelees, piekniek gehou in die tuin, winkel toe gegaan, uitgeeet (waar Adrian siek geword het) en saam familie en vriende gekuier. Adrian het in die tyd soveel ontwikkel – sit sy eie dummy (of soos ons dit noem, ammie) in sy mond, staan op sy twee handjies en kniee en wieg soos n Ferrari wat gereed is om weg te trek.
Kersfees! Adrian het hom meer verstom aan al die mense en lawaai rondom hom as die geskenke. Maar nie te min, dit was sy eerste erfaring van 'n kersfees boom, geskenke en die kersverhaal. Dit het Ma en Pa weereens herhinner hoe kosbaar die tyd saam met hom is.

Met eens, is daar drie geskenkies voor Adrian neer geplak, die opgewondenheid van Ma en Pa is byna onuithoubaar! Video kamera rol om die spesiale geleentheid vas te vang.... Adrian gryp die eerste geskenkie en begin nastigtelik aan die geskenkpapier te vroetel. Vinnig het hy n stukkie papier afgeskeur, en net daar verloor hy sy belangstelling in die geskenk, want die stukkie pappier is reguit mond toe! Die tandjie wat eers einde November sy verskynning gemaak het, jeuk mos. Ma en Pa moes maar self sy geskenkies vir hom verder oop maak.
Adrian se eerste kersfees.

Adrian met sy eerste kersfees geskenkies

Vroeg in Januarie begin sy tweede tandjie kop uit steek. Alles wat hy kan vashou gaan mond toe. Ek het 'n nuwe sienning van knaag diere gekry!

Ongelukkig kom alle goeie vakansies tot n einde. Ma en Pa moes terug werk toe en moet vir Adriantjie vroeg in die oggen groet en by Ouma aflaai. Ons kan nie wag vir die volgende vakansie in April om aan te breek nie. In tussen wag ons in groot afwagting vir daai “wegspring” wanneer Adrian die wêreld begin verken op sy kniee en hande!!
Adrian soos n wafferse Ferrari in die wegspring posisie.