Saturday, September 8, 2012

As ek die tyd kon terug draai

Wie kan nog onthou die eerste keer wat jy jou voete op die strand gesit het. Waarskynlik baie min van ons. Adrian sal waarskynlik ook een van die wees wat dit nie sal onthou nie, maar Pa sal definitief dit vir altyd onthou.

Pa, ma en Adrian was baie gelukkig om by Sanlameer vakanise te hou vanaf die 22ste Augustus tot 3 September. Dit was die eerste keer dat Adrian die groot  see gesien het. Ongelukkig was die weer op die dag wat ons arriveer het maar sleg en het ons die groot oomblik uitgestel tot die volgende dag met die hoop dat die reën weer sal wyk.

Die Donderdag (23ste) was die weer darem effe beter en kon ons ten minste strand toe gaan. Ma en Pa het vroeg die oggend vir Adrian sy pap gegee, doeke sak gepak met grafie en emmer daarin. Ons kon ons opgewondendheid skaars beteul. Met Adrian op Pa se skouers, strand sambreel onder die arm en Ma met die doek sak agterna is ons af strand toe. Adrian se mond het letterlik oop geval ten aanskoue van die massa water voorhom. Met n vingertjie wys hy na die see en begin te gesêls. By die gety poel sit ek hom op die sand neer. Adrian was heeltemal verstom oor alles wat hy rondom hom sien – baie water wat raas en spoel, sand oral om hom en Ma en Pa wat fotos en video neem.
Adrian by Sanlameer strand

Vinnig begin Adrian gewoond raak aan al die sand en begin hy met sy handjies graws en vee! Sonbrand-smeer word oor die hele lyfie, wat by die ‘Spiderman’ swempakkie uitsteek, gesmeer en hoed word op die koppie gedruk. Vinnig het hy hom tuisgemaak in die vlak water van die getypoel en sand “kastele” begin bou – dalk nie heeltemal sandkastele nie maar “molshope”.

Later die middag het Ouma Joyce en Oupa Phillip by ons aangesluit. Adrian het die tyd saam met hulle so geniet en vreeslik baie gesêls. Ouma en Oupa het om die volgende paar dae om die beurt vir Adrian op stappies geneem terwyl Ma en Pa kon rus.

Sanlameer is nie net bekend vir sy mooi strand nie maar ook sy pragtige golfbaan. So het Ma en Pa elke middag saam met Adrian op die golfbaan gaan stap. Adrian het selfs die rooibokke op n slag vir ‘n goie 100m vêr agtervolg met die hoop om een te vang. Apies was oral te siene en Adrian het die slag toe paar apies besluit om rooibokke rond te jaag vreeslik geniet.
Adrian op die golfbaan met rooibokke in die agtergrond

Teen dag 7 was Adrian so vertroud met die see dat hy op sy eie langs die strand afstap met Ma en Pa natuurlik kort op sy hake (met kamera en videokamera in die hand). Daar was wel een geleentheid wat hy himself misgis het met die branders. Adrian het dood loiters langs die see afgestap toe ‘n brander, jeup hoogte, verby hom spoel. Met die terug trek spoel die sand onder sy voetjies uit en slaan hy toe neer, kop eerste in die water. Ma storm toe vining nader om hom te red. Met ‘n huilende Adrian is Ma strand uit na die duine. By die huis kry hy ‘n lekker warm bad net om die sand uit die hare en ore te kry.
Pa, Ma en Adrian by Sanlameer
Die pad terug huis toe was maar lank en swaar. Die tyd by die see as ‘n families al lank onthou word en hopelik sal dit binnekort weer gebeur!

Ek het op die gedig afgekom wat so mooi vertel dat jy elke oomblik moet koester en onthou! (‘n Uitreksel van die gedig)

"Ek sou so graag - wéér - na al jou lewensdrome wou luister
en saam met jou nuwe lewensdrome vir die toekoms droom.


Ek sou weer saam met jou kussinggevegte wou hê
Weer saam met jou op die gras wou lê
en prentjies in die wolkformasies soek."