Monday, July 30, 2012

Adrian en die bees

Ek het by so baie ouers gehoor dat babas word net ouliker en ouliker. Ek kan dit beaam. Elke maand dink ek, "nou is Adrian op sy oulikste" net om 'n maand later dit weer te dink. Adrian is nou op die stadium waar hy vreeslik baie kommunikeer. Met a swaaiende handjie en vinger wat na voorwerpe wys gesels hy heeltyd met Ma en Pa. Niks ontwyk die wakker ogies nie. Hy neem alles waar. In Woolworths net nou die dag dra ek hom in my arms terwyl ek soek na die babakos. Adrian gesels so en wys heeltyd na die advertensie plakate toe 'n vrou omdraai en noem dat Adrian baie oulik is. inderdaad wou ek terug sê. Met babakos in beide handjies (hy is mal om voorwerpe in beide handjies vas te hou) staan ons in die ry om te betaal. Uiteindelik toe ons by "till number 3" uitkom weier hy om die babakos te los. Met 'n groot glimlag vat die vrou by die register vir Adrian en skuif hom en die babakos by die 'scanner' verby. Gelukkig registreer die register die regte prys vir die babakos. Natuurlik het Adrian die episode baie geniet, so ook die talle mense wat die petalje moes aanskou.

Oor 'n maad gaan ons Sanlameer toe en ek hoop Adrian kan teen daai tyd behoorlik loop. Dit sal net soveel lekkerder wees as hy oor die strand kan loop as om te kruip. Hy het die afgelope naweek 16 treetjies gegee! Sy loop vernuf verbeter by die dag.

Adrian voer die bees by Irene Plaas

Twee naweke gelede besluit Ma en Pa dis tyd om vir Adrian plaas toe te neem. Natuurlik is daar net een plaas in Pretoria en dit is die Irene Dairy Farm. Was dit nou pret! Koeie wat uit Adrian se hand gras eet, hoenders wat dink sy toontjies is mieliepitte en swane wat op die plaasdam swem. Adrian het met groot oë  na die bees gekyk wat hard probeer het om hom 'n lek seur die gesig te gee. Natuurlik was dit groot pret toe die hoendertjies sy tone probeer pik.

Adrian word elke oggend wakker met 'n groot gebabbel en vriendelike laggies. Hy word veral baie vrolik as hy sekere speelgoed sien, soos sy hond wat Cobus vir hom gegee het toe hy gebore was. Sodra hy sy melk klaar gedrink het sal hy vinnig teen die bed af seil en vir die 'hond' gaan groet met 'n behoorlike soen en drukkie.


Adrian gee vir sy hondjie 'n drukkie

No comments:

Post a Comment