Thursday, December 20, 2012

Goggos en kersfees


Ons is alreeds by die tweede kersfees! Die tyd vlieg so vining verby en onder ons neuse word Adrian ‘n groot seuntjie. Hy is alreeds 20 maande en 9 dae oud!! Hy het ‘n week gelede sy laaste inentings gekry as ‘n baba, wat wonderlike nuus was vir Pa en Ma. Die volgende inenting is op 6 jarige ouderdom, alhoewel daar ‘n optionele inenting teen breinvlies ontsteking is wanneer hy 2 jaar oud word. Nietemin, na sy laaste inentings het hy darem nie siek geword nie. Sy eetlus was wel geafekteer en hopelik kan dit maar toegeskryf word aan die newe effekte van die inentings. As dit so is, is dit maar einaardig, aangesien die eetlus vir ‘kokkoks’ (koekies) en broodjies glad nie geafekteer het nie.

Adrian se woordeskat en komunikasie vaardighede ontwikkel by die dag. Ek weet mense sê dat klein kindertjies soos sponse is wat alles absorbeer, en dit is nou weereens bewys. Ewe skielik begin hy woorde noem wat ons so baie vir hom gesê het toe hy klein was. Sy gunsteling woorde en voorwerpe moet wees die ‘MAAN’ en ‘AMETJIE’ (dummy).  Dit is natuurlik buiten die woorde, mamma, pappa, kokkok en water. Elke aand voor bedtyd, begin Adrian die maan soek,  terwyl hy heeltyd roep ‘kyk maan’. Pa moet hom maar uit vat en die maan wys. Die grootste struikelblok deesdae is al die wolke en reën wat dit ontmoontlik maak om die maan te sien. Wanneer Adrian wel die maan sien dan roep hy “maaaan’.
Adrian sien die maan

Kersfees het vroeg vir Adrian gekom. Hy begin al hoe meer die konsep van geskenke te verstaan, hoe om geskenkpapier oop te ruk en ‘n verrassing te kry. Ma en Pa het reeds vroeg in Desember begin geskenke koop. Ongelukkig het nie een van die geskenke dit gemaak tot ou kersaand nie. Of Ma en Pa is te opgewonde oor die geskenke of Adrian met sy wakker ogies, sien dit raak en wil dit dan dadelik oopmaak. So het dit gebeur dat hy die volgende rits geskenkevoor kersfees ontvang het – maan- en sterretjie tent, batman motorfietsie, floresent maan en sterretjies, sak met 100 balle, drie DVD’s (Carike sing, A bugs life en Finding Nemo) en ‘n TV kontrole. Buiten die geskenke het hy ook vroeër by die “Van Rooyen Kersete” ‘n motortjie by Cobus, brandweerwa by Julliete en matchbox karretjies by Ma gekry. Wat ‘n bederf!!
Adrian in sy eie 'Maan en sterretjie'tent


Tot ons misnoë het hy besef dat die TV ‘n groot bron van vermaak is. Hy sal gereeld die TV en DSTV kontroles vat en die TV prober aanskakel. Tussen Adrian en Ma is dit altyd ‘n gesukkel om die TV ‘uit te sorteer’ aangesien nie een van hulle weet watter knoppies om te druk nie of watter kontrole die regte een is nie (daar is kontroles vir – TV, DSTV, DVD, Yamaha klanksisteem en een ou kontrole vir Adrian). Soos reeds genoem, het Adrian ‘n speel kontrole vir ‘kersfees’ gekry. Die kontrole het 60 verskillende klanke. Sodra ‘n knoppie gedruk word maak dit ‘n geluid. Die geluide is in groepe verdeel - TV, diere, musiek en toetter geluide. Dit verskaf baie plesier vir Adrian, maar hy het ook gou besef dat die kontrole nie die TV kan aanskakel nie. Hy sal vir Pa aan die hand vat en in die rigting van die TV kamer trek terwyl hy sê ‘kyk goggo’. Hy verwys natuurlik na die “A bugs life” DVD of hy sal sing “Heidi, Heidi” vir die Heidi DVD. Ons prober maar die TV kyk beperk so vêr ons kan, maar dit is baie handig wanneer ‘n doek geruil moet word!
Adrian se eie 'TV' knoppies

Kersfees is om die draai en Ma en Pa sal weer die winkels moet aandurf om ‘n geskenkie vir Adrian te koop wat hy op ou kersaand kan oopmaak. Die keer moet ons dit goed wegsteek soda thy dit nie voor die tyd kan ontdek nie.

No comments:

Post a Comment